Biocircle



Product Specifications

Biocircle kompos is die eindproduk van ‘n proses waardeur organiese materiaal deur mikro-organismes tot humus verwerk word. Die produkte wat saamgestel word met hierdie organiese produkte bevat toeganklike voeding-stowwe en speel ‘n groot rol om ‘n gesonde biologiese sisteem in die grond te handhaaf. Eco Cert-sertifisering is beskikbaar op al die kompos produkte.

Proses

Biocircle gebruik ‘n aerobiese komposteringsproses wat ongeveer 6 tot 8 weke duur. Roumateriale word in vaste verhoudings met mekaar vermeng, benat en in hope gepak. Lug word op ‘n gereelde basis in die komposhope ingesuig om gunstige suurstofvlakke te handhaaf en ook die temperatuur binne die hope te reguleer wat die vernietiging van patogene en onkruidsaad verseker. Die finale produk het ‘n donker kleur, aangename reuk, voginhoud van ongeveer 40% en ‘n C:N-verhouding van 20:1 of minder.

Die verskillende komposfraksies word na kompostering geskei, hervermeng of verryk om spesifieke produkte saam te stel.

Aanwending

Alhoewel kompos al die voedingstowwe bevat wat nodig is vir plantproduksie word dit, met die uitsondering van organiese produsente, nie as ‘n bemestingstof gebruik nie. Die voordele waar kompos met chemiese produkte gekombineer word, is reeds goed bekend. Kompos word hoofsaaklik as deklaag by permanente gewasse of as ‘n grondverbeteraar vir swak kolle of gedeeltes waar grond herwin of nuut gevestig word, gebruik. ‘n Tweede toepassing is waar kompos gebruik word om die organiese inhoud van die grond te verhoog om wortelgroei te stimuleer. Kompos word normaalweg vermeng met die boonste 30- 40 cm grond voordat nuwe gewasse gevestig word.Toevoegings van groot hoeveelhede kompos in die plantgate word nie aanbeveel nie aangesien dit potvorming kan aanhelp.

Werking

Die komposdeklaag beskerm die grondoppervlak en skep gunstige groeitoestande vir die voedingswortels. Lae hoeveelhede voedingstowwe word toegevoeg maar die organiese materiaal is ryk aan organiese verbindings wat in sinergisme met die chemiese bemestingstowwe tot ‘n verhoogde vlak van voedingstofbenutting lei. Hierdie meer gebalenseerde benadering van groeitoestande en voeding lewer dikwels tot verhoogde produksie, meer gebalenseerde groei en gesonde plante.

----- Bionamix - nourishment for life -----