Wêreldwyd is daar ernstige kommer oor omgewingsaangeleenthede. Binne landbou plaas dit druk op implementering van meer omgewingsvriendelike verbouingspraktyke. Met ander woorde, volhoubare sisteme waar onder andere organiese afvalmateriaal hersirkuleer word as bron van plantvoedsel.
Organiese materiaal was vir baie lank die enigste bron van plantvoedsel, maar dit kon nie byhou om aan die behoeftes van moderne landbou te voorsien nie. Daarby is die verhouding van voedingselemente in organiese materiaal nie optimaal vir intensiewe produksie sisteme nie.
Met die koms van kunsmis ongeveer ‘n 100 jaar gelede, het die gebruik van organiese materiaal as plantvoedsel, feitlik opgehou. Kunsmis produkte was soveel suiwerder, hoër in konsentrasie en makliker om te hanteer. Bemesting was nou meer akkuraat, spesifiek en maklik. Hierdie omskakeling het egter ‘n groot bydrae gelewer om die organiese komponent in landbougronde te vernietig.
Die organiese komponent is die lewende komponent van ‘n grond. Dit bestaan nie net uit organiese materiaal nie, maar ook, en baie belangrik, ‘n aktiewe en ryke verskeidenheid van mikrobiologiese lewe. Die opbou van hierdie organiese komponent is dus noodsaaklik vir die handhawing van ‘n gesonde wortelsone. Plantwortels is en bly die mees effektiewe organe vir voedingstofopname. Dus, ‘n gesonde grond = gesonde wortels = gesonde plante.
Met die Terramax reeks van verpilde, verrykte organiese misstowwe, kombineer Bionamix nou die voordele van organiese en anorganiese bemesting. Die Terramax produkte bevat minstens 50% organiese materiaal as basis vir gebalanseerde NPK en mikro-element verryking. Die verpilde produkte is maklik om te stoor, hanteer en toe te dien.
In proewe het die Terramax produkte beter presteer as beide organiese en anorganiese misstowwe op hul eie. Die rede hiervoor kan as volg verduidelik word:
Organiese misstowwe of humus vormende materiaal in die wortelsone beïnvloed die opname van voedingstowwe. Wanneer die Terramax korrel water absorbeer, breek dit op en die organiese basis vorm ‘n kolloïdale of gom-agtige medium. Hierdie medium verskaf energie vir die mikrobe aktiwiteit en dien ook as reservoir vir die toegediende voedingstowwe. Dus, ‘n verhoging in die vermoë van die grond om voedingstowwe teen loging te beskerm. Wanneer hierdie organiese medium afbreek stel dit ook voedingstowwe beskikbaar. Op hierdie manier word voedingstowwe dus oor ‘n langer periode aan plante beskikbaar gemaak.
Organiese koloïede verbeter ook die grondstruktuur en verhoog die waterhouvermoë, terwyl die verryking met anorganiese voedingselemente verseker dat die regte voedingselemente in korrekte verhoudings toegedien word.
Die Terramax produkte word reeds die afgelope 6 jaar met groot sukses landswyd gebruik op ‘n groot verskeidenheid van gewasse. Dit sluit in groente, vrugte, suikerriet en graan.
Die produkte pas maklik in bestaande bemestingsprogramme, en hoef nie noodwendig op hul eie gebruik te word nie. Die produkte word tegnies ondersteun deur Landboukundiges en bemestingsaanbevelings word gebasseer op grond en blaarontledings. ‘n Volledige reeks van produkte wat die volgende insluit is beskikbaar:
9.2.9(20), 10.2.6(18)M, 12.3.3(18), 7.7.7(21) en 7.1.13(21)
Bennie Diedericks.